Cyril en die ANC kom vir jou pensioen!

0
127
pension fund 1

by Mmusi Maimane – Leier van die Demokratiese Alliansie

Nota aan redakteurs: Onderstaande is ‘n uittreksel uit die toespraak wat DA-leier Mmusi Maimane vandag by die DA se Werkersdag-saamtrek in Kaapstad gelewer het.

Na 25 jare van ANC-bewind, word ons vryhede weereens bedreig. 10 Miljoen Suid-Afrikaners het geen werk nie. En die van ons wat wel werk het, verloor al hoer meer van ons inkomste aan die gulsige en korrupte ANC wat op soek is na méér maniere om sy korrupte kaders te voed.

Elke maand wat verby gaan, betaal ons meer vir elektrisiteit, petrol en BTW om ANC-korrupsie te voer en om ANC-mislukkings by Eskom, SAL en Prasa te finansier. Die jongste verhoging was gisteraand toe die prys van petrol met nog 54c per liter opgegaan het.

Die staatsbeheerde ondernemings het ‘n onblusbare honger en ek wil Suid-Afrikaners waarsku dat die ANC kom vir jou pensioen! Dis wat die ANC en Ramaphosa bedoel wanneer hulle praat van “voorgeskrewe bates”. Hulle beplan om ons te dwing om ons pensioen te belê in hierdie sukkelende staatsbeheerde ondernemings.

As gevolg van hul eie mislukkings, beplan hulle nou wetgewing wat die regeringspensioenfonds sowel as private pensioenfondse sal gebruik om hierdie instellings aan die gang te hou. Dit is Cyril Ramaphosa en die ANC se beleid.

Die ANC het sowat R1.2 triljoen deur korrupsie gesteel en hulle beplan nie om nou op te hou nie.

Hierdie werkersdag, net  ‘n week voor die belangrikste verkiesing sedert 1994, moet ons mooi dink hoe ons ons finansiële vryheid en ons toekoms kan beskerm.

Ek sê nou reguit, die enigste party wat jou finansiële vryheid kan beskerm, is die DA. Die DA sal by jou staan en hiervoor baklei.

Ons sal die Wysigingswetsontwerp op die Openbare Beleggingskorporasie teenstaan om Suid-Afrikaners se pensioen te beskerm. Ons sal in die parlement baklei vir finansiële vryheid.

Ek maak nie net beloftes vandag nie, ek het konkrete bewyse.

Die Wes-Kaap het nog ‘n lang pad om te gaan, maar kyk net na die vordering wat ons die laaste dekade gemaak het.

Na ‘n dekade van DA-regering het die Wes-Kaap die laagste breë werkloosheidsyfer in Suid-Afrika. Teen 23%, is dit 14 persentasiepunte laer as die Suid-Afrikaanse gemiddeld van 37%. Daar is vandag 508 000 meer werksgeleenthede in hierdie provinsie as wat daar 10 jare gelede was.

Selfs na 3 jare van strawwe droogte, het die landbousektor hier met 10 000 werksgeleenthede gegroei. G’n wonder nie dat ons die laagste landelike werkloosheidsyfer het – slegs 15%. Ons is ook ‘n voorloper in grondhervorming met ‘n 72% suksessyfer vir grondhervorming hier.

Op elke maatstaf van goeie provinsiale regering kom die DA-beheerde Wes-Kaap eerste. Ons bestuur die skoonste regering wat eenvoudig beteken dat ons openbare fondse spandeer waarvoor dit bedoel is – die inwoners van die provinse. In die jongste boekjaar het die Wes-Kaap 83% skoon oudits behaal – heelwat meer as Gauteng se 52%.

Dit is waarom dit geen verrassing was nie toe Good Governance Africa se verslag verlede week bevind het dat 12 van die top-20 munisipaliteite in die Wes-Kaap is. Die Wes-Kaap het die beste basiese onderrig resultate. Die laaste dekade het ons 132 nuwe skole gebou met meer as 2000 klaskamers en ons het breëband internet in 1 200 skole uitgerol.

90% van die Wes-Kaapse bevolking woon 30 minute vanaf ‘n primêre gesondheidsorgkliniek en ons het twee groot nuwe distrikshospitale – in Khayelitsha en Mitchells Plain – gebou. G’n wonder nie, dus, dat lewensverwagting in die Wes-Kaap die hoogste in die land is en met 7 jare vermeerder het sedert die DA oorgeneem het.

Waar die DA regeer, is ons ver voor die ANC-regerings. En nou gaan die DA Premierskandidaat hom ook beywer om provinsiale beheer oor die polisie en spoorweeë te bekom.