Derde mynramp in twee maande laat meer vrae as antwoorde – Solidariteit

0
547
For illustration purposes only
Die vakbond Solidariteit het vandag gesê dat die tragiese mynongeluk by Palabora Mining Company (PMC) se kopermyn in Limpopo waarin ses werknemers omgekom het, die derde grootskaalse mynongeluk in ʼn tydperk van twee maande is, en dus die mynboubedryf met meer vrae as antwoorde laat.

Dit volg nadat ses mynwerkers op 15 Julie ondergronds vasgekeer is weens ʼn vervoerband wat aan die brand geraak het. Volgens adv. Paul Mardon, adjunkhoofsekretaris van beroepsgesondheid en -veiligheid by Solidariteit, is só ʼn ongeluk nie ongewoon nie as gevolg van die konstante wrywing wat die vervoerbande moet verduur. Adv. Mardon sê voorts dat weens soortgelyke voorvalle in die verlede, die departement van minerale bronne veiligheidsregulasies uitgereik het en vereis dat alle vervoerbande vlamvertragende eienskappe (“fire-retardant textile-reinforced conveyor belting”) moet hê. “In hierdie stadium is daar egter baie vrae wat onbeantwoord is,” het adv. Mardon gesê.

Adv. Mardon het tereg gevra of dié vervoerband wat begin brand het, ʼn brandvertragende vervoerband was en indien wel, wanneer die betrokke vervoerband laas met die oog op veiligheid geïnspekteer en gediens was. Voorts het adv. Mardon daarop gewys dat veiligheidsregulasies ook vereis dat myne instrumente ondergronds moet hê wat vroeë waarskuwings sein in die geval van ʼn brand. “Op die manier kan werkers betyds gewaarsku word om ʼn gevaargebied betyds te ontruim. Dit wil egter voorkom of dit nie in hierdie geval gebeur het nie,” het Mardon gesê.

Volgens adv. Mardon gaan ʼn volskaalse ondersoek binnekort van stapel gestuur word om die oorsaak van die tragiese ongeluk te bepaal.  “Solidariteit sal deurlopend deel wees van hierdie ondersoeke in ʼn poging om by die waarheid uit te kom,” het adv. Mardon afgesluit.