Duisende insette op die skolewetsontwerp beklemtoon publiek se kommer

0
42
skole
Planne om skole te nasionaliseer gaan voort.

Die publiek het slegs twee dae oor om hul insette op die wysigingswetsontwerp op die Skolewet, wat op 13 Oktober deur die minister van basiese onderwys aangekondig is, te lewer. Solidariteit doen ʼn beroep op elke ouer, onderwyser en bekommerde lid van die gemeenskap om hul kommentaar in te stuur om te voorkom dat skole tot staatsinstellings genasionaliseer word.

Solidariteit het vroeër gesê dat die wetsontwerp kommerwekkende klousules bevat wat die mag uit die beheerliggaam, personeel en die ouers se hande sal neem en skole volkome onder staatsbeheer sal plaas.

Volgens Francois Redelinghuys, kommunikasiebestuurder by Solidariteit, het Panyaza Lesufi, die LUR van onderwys in Gauteng, tydens ʼn radio-onderhoud op Radio 702 op 2 November dié kommer versterk. “Sy uitlatings dat klaskamers vergroot moet word sodat tussen 60 en 70 leerlinge per klas geakkommodeer kan word, en dat beheer oor aanstellings toegepas moet word, is kommerwekkend.  Indien dié wetswysigings goedgekeur word, sal onderwysers voorgeskryf word oor waar hulle hul beroep moet uitoefen,” het Redelinghuys gesê.

Redelinghuys voer aan dat ouers ʼn demokratiese reg het om deur middel van beheerliggame besluite oor hul kinders en gemeenskap se skole te neem. Daarom het Solidariteit ʼn platform geskep waar enige lid van die publiek hul beswaar oor die wetsontwerp kan lug en kommentaar kan lewer.

Volgens Redelinghuys het sowat 80 000 mense reeds insette op dié platform gelewer. “Die syfer beklemtoon die kommer wat tans rakende die wetsontwerp heers. Verder is dit ook  ʼn bewys dat die publiek skole as gemeenskapsinstellings ag, en dat die toekoms van skole die publiek na aan die hart lê,” het Redelinghuys gesê.

Solidariteit mik om teen 10 November 100 000 insette te hê sodat hy op 13 November al die insette aan die Onderwysdepartement kan oorhandig.

“Beskerm die skole in jou gemeenskap om ʼn toekoms vir jou kind te verseker. Maak jou stem dik teen die wysigingswetsontwerp wat dreig om ons skole hul onafhanklikheid te ontneem,” maan Redelinghuys.