Matriek eerder wegspringblok as eindstreep

0
116

Die vakbond Solidariteit het vandag gesê dat 2017 se matrieks nie hulle opleiding moet stop nie. ʼn Matrieksertifikaat alleen gaan nie dieselfde geleenthede skep as addisionele opleiding nie.

“Alhoewel indiensneming in Suid-Afrika onder druk is, is dit duidelik dat mense met verdere opleiding ʼn aansienlik beter kans het om nie net werk nie, maar ʼn goeie werk te kry,” sê Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut

“Werkloosheid onder graduandi en mense met verdere tersiêre opleiding is slegs 5,4% en 17,8% onderskeidelik – in vergelyking met Suid-Afrika se hoër koers van 27,7%,” het Mulder verder uitgebrei.

“Ons moedig 2017 se matrieks aan om addisionele opleiding ʼn prioriteit te maak. Moenie jouself blind staar teen ʼn universiteitsopleiding nie – enige verdere opleiding verhoog jou kanse om werk te kry aansienlik. Maak seker dat al staan jy in ʼn beroep, jy jouself beywer vir addisionele opleiding,” het Mulder bygevoeg.

“Wat belangrik is, is dat 2017 se matrieks nie moet ophou om opleiding te verkry nie. ʼn Matrieksertifikaat moet as ʼn wegspringblok eerder as ʼn eindstreep gesien word,” sluit Mulder af.