Mboweni is reg – SA is by kruispad – Solidariteit

0
210
Tito Mboweni. (Photo RiseFM)

 

Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) het  na afloop van die mediumtermynbegrotingstoespraak gesê dat enige verwysing na die voortslepende grondonteieningsdebat in sy afwesigheid geskitter het. “Ten spyte van talle idees en planne wat beraam word, is min tasbare voorstelle aangekondig wat die ekonomiese situasie gaan verbeter,” het Connie Mulder, hoof van die SNI gesê.

Volgens Mulder sal die mediumtermynbegroting dus eerder onthou word vir dit wat nie gesê is nie. “Daar is nie ʼn woord gerep oor onteiening sonder vergoeding nie. Dit is asof minister Mboweni dink ons ekonomie is bloot weens toeval in ʼn tegniese resessie. Om dan boonop landbou as een van die groot drywers van ekonomiese herstel te lys sonder om een van die grootste bedreigings vir landbou te noem, is eenvoudig verwyder van die werklikheid,” het Mulder gesê.

“Wat egter besonder onrusbarend is, is dat dit wil voorkom of ons regering beheer oor die staatsalarisrekening en skuldrekening verloor – met finansieringskoste wat teen 10,9% jaar-op-jaar die snels groeiende item in die geskatte begroting is. Alhoewel minister Mboweni sterk standpunt inneem oor staatskuld, voorsien hy steeds dat die begrotingstekort gaan groei. Daar word baie gepraat oor die neem van moeilike besluite, maar feitlik geen sodanige besluite word geneem nie,” het Mulder beklemtoon.

Mulder wys egter daarop dat dit bemoedigend is dat bykomende fondse nie beskikbaar gestel gaan word om nog ʼn verhoging vir staatsamptenare wat hoër as inflasie is, te befonds nie. “In die lig van die haglike finansiële toestand waarin die meeste Suid-Afrikaanse regeringsinstellings verkeer, is die kanse dat hulle die koste verbonde aan hoër salarisse sal kan absorbeer skraal, en gaan ons amper noodwendig meer moet leen as wat beplan is om salarisse te kan befonds,” het Mulder gewaarsku.

“Daar is gehoop om ten minste ʼn aanduiding te kry van wat pres. Ramaphosa se stimuluspakket behels. Ongelukkig het die hoop beskaam en is daar besonders min aangekondig wat tasbaar is. Wat wel bemoedigend is, is dat daar weer beloftes gemaak is om staatsondernemings reg te ruk. Dit kom ook op ʼn tydstip dat Solidariteit vanjaar in bykans elke groot staatsinstelling ongerymdhede bekendgemaak het waaronder SAL en Denel. Ten spyte daarvan word daar weer reddingsboeie vir staatsondernemings gegee, en word daar voorsiening gemaak vir ʼn skerp styging in die petrolprys om die padongelukfonds se wanbestuur te befonds, wat werklik onrusbarend is,” het Mulder gesê.

“Ten spyte van die volslae mislukking van die loodsprojekte, asook die ekonomiese groei wat wesenlik laer is as wat benodig word, word daar voortgestoom met die Nasionale Gesondheidsversekering. Met ekonomiese groei van 2,3%, wat ver onder die vereiste 5% is, word daar nooit gepraat oor waar die geld daarvoor vandaan gaan kom nie,” aldus Mulder.

“Minister Mboweni is reg – ons staan inderdaad by ʼn kruispad. Ongelukkig is ʼn voortsetting van die beleid wat ons by dié kruispad gebring het al wat aangekondig is. Solank as wat ons regering vas glo dat ʼn ekonomie in welvaart in gereguleer kan word, is ons gedoem tot ʼn groter skuldlas namate ons wonder waarom uitgediende ekonomiese beleid nie werk nie,” het Mulder gesê.