Nellies atlete maai onder die rekords

0
246
nellies

Adriaan de Beer

LAERSKOOL Nelspruit lewer sommer vroeg vanjaar vuurwarm vertonings, toe die jaarlikse interhuis-atletiekbyeenkoms etlike rekords sien spat het.

Die Seymore, du Toit en Basson Interhuis, wat verlede Vrydag gehou is ten spyte van uiters warm toestande (38 grade), sal veral onthou word vir die 17 nuwe rekords wat in die slag gebly het.

Van hierdie rekords sluit onder andere dié van Vaughn van Zyl in, wat ‘n 17-jaar oue gewigstoot-rekord  van Werner Bekker met 71cm verpletter het. Die rekord van 10.54m wat in 2001 opgestel is staan nou op 11.24m.

Ander atlete wat puik presteer het en gerus vanjaar dopgehou kan word is Jessica Badenhorst, Kiara Craven, Ninke Mostert, Simone Lourens, Lana Botha en Lana Theron.

Die skool het hul dank uitgespreek teenoor Seymore, du Toit en Basson wat as titelborg by die dag opgetree het.

REKORDS

Rekords wat verbeter is sluit in Ninke Mostert wat die 150m vir dogters o/12 in 21.69 sekondes afgeblits het, met Lana Botha kort op haar hakke in 20.54. Die vorige rekord was 21.69.

Dit gebeur selde dat onder-8 atlete die 60m in minder as 10 sekondes aflê, maar Jessica Badenhorst het dit vermag in 9.59. Sy het ook die 80m in ‘n nuwe rekord van 12.73 sekondes voltooi.

In die seunsafdeling in dieselfde ouderdomsgroep het drie atlete die 60m rekord van Neil van Aardt (9.64) wat in 2014 opgestel is, verbeter. Dandré Louw het slegs 9.37 sekondes nodig gehad met Ihvan Pretorius tweede in 9.41 en Bernard Calitz op sy hakke in 9.52 sekondes.

Luan Naude het die o/9 60m vir seuns in 9 sekondes gehardloop, terwyl Pretorius en Calitz ook hul name in die rekordboeke opgeskryf het in die 80m met tye van 12.56 en 12.61 onderskeidelik.

In die hoogspring vir dogters 0/11 het Simone Lourens op ‘n hoogte van 1.35m oor die lat geseil, terwyl MJ van Staden in die seuns 0/12 op 1.41m geslaag het.

Die verspringrekord van Lana Theron (dogters 0/10) is 4.19m terwyl Ninke Mostert nog twee rekords agter haar naam bygevoeg het in die dogters o/12 verspring (4.57m) en die 100m in 13.05 sekondes. Lana Botha het weer in haar nek geblaas en die naelloop in 13.63 voltooi.

Naleni Fakude in aksie in die gewigstoot.
Nico Meyer seil sierlik oor die hekkies.
Tanya Pieterse op pad sand toe in die verspring.
Tanya Pieterse op pad sand toe in die verspring.
Man van die Dag, Vaughn van Zyl, verbeter hier die 17-jaar oue gewigstoot-rekord van Werner Bekker na 11.24m.

Foto’s: Johan Orton