Onrusbarend dat regering sê: “Gee jou gewere oor” – Solidariteit

0
266
Photo for illustration only.

“ʼn Ontwapende burgery is totaal uitgelewer en dit terwyl die reg om ʼn mens se eie lewe te beskerm absoluut en ononderhandelbaar is. Ons durf dit nie eers oorweeg om ʼn aks te gee in dié verband nie. Die tyd het aangebreek om onredelik en onbeskaamd op normaliteit aan te dring.” So sê Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), in reaksie op ʼn dokument wat glo bedoel is om ʼn wysigingswetsontwerp op die Vuurwapenwet te wees.

Die vakbond het voorts aangekondig dat hy eersdaags ʼn reuseveldtog van stapel gaan stuur om hierdie dokument met hand en tand te beveg, onder meer deur middel van massa-ondersteuning, petisies en internasionale bewusmaking.

Die dokument beoog om artikels 13 en 14 van die Wet op Beheer van Vuurwapens (No. 60 van 2000), wat spesifiek daarvoor voorsiening maak dat vuurwapens vir selfverdediging toegelaat word, te skrap. Volgens Mulder is hierdie voorstel op sy eie al ongelooflik problematies. “Burgers se reg om hul eie lewe te verdedig, is iets wat fundamenteel tot ʼn samelewing is. In Suid-Afrika, met ons absurde vlakke van geweldsmisdaad, is dit net verregaande om burgers se reg op lewe in te perk,” waarsku Mulder.

“Alhoewel daar vrae rondom die status van die dokument mag bestaan, is dit vir ons so duidelik soos daglig dat dit ʼn voorgestelde wysigingswetsontwerp is, selfs al is dit tegnies gesproke nog nie een nie. As ʼn ding lyk soos ʼn eend, ruik soos ʼn eend en vlieg soos ʼn eend – dan is dit ʼn eend, al is dit nie op die oomblik op ʼn dam nie,” het Mulder verduidelik.

“Om boonop as motivering aan te voer dat die hoë vlakke van geweldsmisdaad en vuurwapenmisdaad vasgevat gaan word deur landsburgers te ontwapen, is net ʼn bewys dat die opstellers van hierdie wysiging van die werklikheid ontkoppel is. Ten spyte van eng vuurwapenwette, is Suid-Afrika se geweldsmisdaadvlakke buitensporig hoog. Die idee dat groter regulering van vuurwapens die geweldsmisdaadprobleem gaan takel, het sy ontstaan in ʼn PowerPoint-voorlegging eerder as in ʼn polisieverslag gehad,” het Mulder gesê.

Indien ons slegs oor wapenwetgewing sou praat, was hierdie idee reeds problematies. Binne die konteks van verskeie kommunistiese beleide wat die ANC in die res van 2018 wil aan- en deurvoer, soos onteiening sonder vergoeding en die Nasionale Gesondheidsversekering, is hierdie wysigingswetsontwerp ongelooflik onrusbarend,” het Mulder verduidelik.

“Ons sal dit nie daar laat nie. Hier is waar ʼn mens die streep trek. ʼn Regering moet bang wees vir sy burgers, nie andersom nie,” het Mulder gesê.