Ope brief aan Lonmin se uitvoerende hoof, Ben Magara – Solidariteit

0
317
Ben Magara CEO Lonmin
Ben Magara CEO Lonmin SA . 3 Apr 2014 . pics Russell Roberts

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, het vandag in ʼn ope brief, gerig aan die uitvoerende hoof van Lonmin, Ben Magara, sy misnoeë met die bestuur se besluite oor vakbonderkenning te kenne gegee en Magara tot ʼn regstreekse TV of radio-debat oor die aangeleentheid gedaag. Dit volg nadat die mynmaatskappy verlede week kennis aan Solidariteit sowel as die vakbonde NUM en Uasa gegee het oor sy besluit om hul erkenning op te skort.

Volgens Du Plessis word die ope brief genoodsaak omrede Magara nie by sy belofte en ooreenkoms gehou het om dié drie vakbonde se erkenningsregte, wat al drie jaar lank van krag is, te handhaaf nie. “Dié brief moet in die openbare domein verskyn omrede Magara nie by die beloftes hou wat hy agter geslote deure maak nie en wat onrusbarend is,” het Du Plessis verduidelik.

Du Plessis verduidelik verder in die brief hoe Solidariteit tydens die Marikana-insident en die vernietigende staking in 2014 ʼn ondersteunende rol aan Lonmin gebied het, toe die myn juis deur Amcu op sy knieë gedwing is. Dit is die einste Amcu wat nou eis dat die drie ander vakbonde se regte opgeskort moet word.

Du Plessis maak ook die volgende punt in sy brief: “. Ek onthou nog dat u en ek tydens die finalisering van die beperkteregte-ooreenkoms in die teenwoordigheid van ons verteenwoordigers hand geskud het waar u plegtig belowe en u woord gegee het dat ons regte nou veilig is en gehandhaaf sal word. Ek het u woord aanvaar, maar nadat u die vertrek verlaat het tog aan ons koukus genoem “dat die toekoms sal bepaal of u wel ʼn man van u woord is.”

Om Du Plessis se brief aan Magara te lees, klik hier.

Gideon du Plessis
Hoofsekretaris:  Solidariteit