Ramaphosa kies ANC bo land – Solidariteit

0
650
solidarity logo

Die vakbond Solidariteit het gesê dat die ANC by monde van die president, Cyril Ramaphosa, vanmiddag by ʼn mediakonferensie sy ware kleure getoon het.

Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut, voer aan dat verskeie uitlatings deur die regerende party die afgelope twee dae dit duidelik gemaak het dat die parlementêre proses eintlik net toneelspelery was. “Die aanvanklike besluit soos vervat in die ANC se beleidsdokumente word steeds deurgevoer, maar die openbare verhore was maar net vir die skyn, terwyl die eintlike besluit deurgedruk word,” het Mulder gesê.

Volgens Mulder is die tydsberekening ook baie interessant: Gister het die IMF gewaarsku dat onteiening sonder vergoeding ʼn beleggingsrisiko is, terwyl die ANC vandag aangedui het dat hulle nie omgee nie. “Die boodskap wat aan buitelandse beleggers oorgedra word, is een van onmoontlikheid. Die boodskap is: ‘Kom belê hier sodat ons jou eiendom later sonder vergoeding kan neem,’” het Mulder gesê.

“Tesame met die onsekerheid wat in mynbou oor die mynbouhandves heers, nuwe rekordvlakke van werkloosheid en trae ekonomiese groei, is dit roekeloos van die regering om bloot voort te stoom met so ʼn skadelike beleid,” het Mulder bygevoeg.

Volgens Mulder sien die publiek roekelose swart nasionalisme en ʼn ANC wat ʼn swak, populistiese en rassistiese beleid gaan implementeer ten koste van die land, sy mense en sy toekoms. “Dit is ook waarom geen rasionele, ekonomiese argument vir die ANC steek hou nie omdat dit nie oor die ekonomie gaan nie, maar oor ras,” het Mulder bygevoeg.

“Dit spreek die duidelikste uit Ronald Lamola se stelling wat by vandag se mediakonferensie gemaak is, naamlik dat grond nie voor die voet onteien kan word nie, want dan gaan swart mense ook hul grond verloor. Dit is net in Suid-Afrika wat rassisme as versagtende omstandigheid gesien kan word,” het Mulder gesê.

Mulder sê voorts dat die beleid ʼn fundamentele verandering van die Grondwet verg en dat die bewoording krities gaan wees. “Dit is slegs ʼn roekelose party wat die Grondwet sal verander as deel van ʼn verkiesingsveldtog,” het Mulder aangedui.

Mulder voer aan dat om finansiële stabiliteit, beleggersvertroue en voedselsekuriteit op te offer vir ʼn verkiesingsoorwinning, ʼn teken van desperaatheid is. “Hierdie desperaatheid, tesame met swart nasionalistiese denke, gaan lei tot meer rassespanning en gelaaide retoriek teen minderhede in die aanloop tot die verkiesing,” het Mulder bygevoeg.

“Die ANC het sy ware kleure getoon – alles en almal sal roekeloos opgeoffer word in die naam van korttermynpopulisme,” het Mulder saamgevat.