Solidariteit Beweging vra: Kom stap saam teen rasse-uitsluiting!

0
236
180 000 white Sasol workers may now legally strike.

SOLIDARITEIT gaan op 25 Oktober ʼn massa-optog na die JSE en Sasol se hoofkantoor in Sandton hou. Die optog is ter ondersteuning van Sasol-werkers se staking teen die uitsluiting van wit mense uit ʼn personeelaandeelskema van Sasol en teen rasse-uitsluiting in die algemeen. Tydens die optog gaan hofstukke op Sasol beteken word sodat Sasol se rasgebaseerde skema in die hof getoets kan word.

“Dié protesaksie is groter as Sasol. Sasol het die simbool geword van ʼn gevoel van uitsluiting van mense in die algemeen. Ons gaan stap teen rasse-uitsluiting in die algemeen, soos uitsluiting uit skole, universiteite en uit politieke besluitneming. Mense is moeg daarvan om uitgesluit te word. Al wat ons vra is normaliteit en gelyke burgerskap,” het Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, gesê.

Die massa-optog volg op Sasol se besluit om wit werkers van die Khanyisa-personeelaandeleskema uit te sluit. Solidariteit se lede het uit protes teen Sasol se rasse-uitsluiting begin staak. Solidariteit het nou besluit om die dispuut na ʼn verdere vlak te voer en om Sasol se rassebesluit in die hof te toets.

“Solidariteit het besluit om die hof te nader sodat Suid-Afrika duidelikheid daaroor kan kry of wit werkers op ʼn absolute manier van aandeelskemas uitgesluit kan word. Ons het ook besluit om ʼn memorandum aan die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) te oorhandig om ʼn duidelike boodskap aan alle maatskappye in Suid-Afrika te stuur dat dié soort rassediskriminasie nie aanvaarbaar is nie,” het Dirk Hermann, bestuurshoof, in ʼn verklaring gesê.

“Suid-Afrika het sy sin vir balans verloor. Die rol van die burgerlike samelewing is om balans te bring. Die regering ken die taal van protes. Een optog na Sandton praat harder as ’n boek vol goeie argumente. Ons het die argumente waarom rasse-uitsluiting nie  geduld moet word nie en nou voeg ons die protes by,” het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, gesê.

’n Konvooi busse en motors gaan om 8:00 die oggend vanaf die Voortrekkermonument in Pretoria vertrek. Mense uit ander rigtings kan om 10:00 veilig by die Rosebank Union Church bymekaar kom vanwaar busse hulle na Mushroom Park in Sandton gaan neem waar die optog om 11:00 gaan begin.

“Dit is baie simbolies om in die hart van Suid-Afrika se plaaslike en internasionale kapitaal ’n optog te hou.

“Sasol is aan die verkeerde kant van die rassedebat. Na jare se debatvoering het die regering, mynhuise, vakbonde en die gemeenskap in die Mynbouhandves ooreengekom dat alle werkers by personeelskemas ingesluit moet word. Sasol het besluit om die konsensus te verbreek. In plaas van ’n ooreenkoms dwing Sasol Solidariteit om hof toe te gaan. Dis jammer dat Sasol nie self die regte ding wil doen nie,” het Hermann verder gesê.

“Al die nodige toestemming is gekry. Dié stap gaan in Solidariteit-styl wees – sterk, sonder om skaam te wees, maar ordelik en sonder om iets te breek. Dit gaan veilig wees; jy kan dus enige belanghebbende saambring,” het Hermann gesê.

Mense wat wil saamstap, moet by www.solidariteit.co.za registreer sodat reëlings deurgegee kan word, of jy kan die woord StapSaam en jou naam per SMS stuur na 34802