Solidariteit-lede gaan more by KVBA protesteer oor ras

0
91

Lede van die vakbond Solidariteit gaan op Donderdag 14 Junie by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) in Johannesburg protesteer teen Sasol se nuwe bemagtigingskema, Khanyisa, wat eksklusief vir swart werknemers bestem is. 

Die KVBA gaan tydens dié bemiddelingsessie finaal probeer om ʼn geskil tussen Sasol en Solidariteit oor die uitsluiting van wit werknemers te besleg. Indien dit nie suksesvol is nie sal die KVBA ʼn sertifikaat uitreik wat Solidariteit-lede in staat sal stel om wettig te staak.

Die bemiddelingsproses volg nadat die KVBA op 28 Mei in ʼn historiese bevinding gestel het dat Solidariteit-lede wel mag staak oor die rasse-uitsluiting wat deur Sasol se werknemeraandeleskema teweeg gebring word, sou bemiddeling by die KVBA misluk.

“Ons meen dat dit onbillik is om ʼn onderskeid te tref tussen twee werknemers wat langs mekaar werk. Ons is daarvan oortuig dat werknemeraandeleskemas wel bestaan wat meer insluitend is. Wit werknemers se frustrasie het kookpunt bereik. Hulle voel dat hul lojale diens asook die waarde wat hulle tot die maatskappy voeg, niks beteken nie,” het Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

Wanneer: 14 Junie 2018
Tyd:           08:30
Waar:        Harrisonstraat 28, Johannesburg