Solidariteit-lede sê nee vir salarisvermindering terwyl grootskaalse wanbestuur woed

0
119

Solidariteit-lede het hul misnoeë te kenne gegee oor die voorstel van Denel se bestuur om salarisse vanaf einde November 2018 met 20% te besnoei. Die besnoeiing van salarisse is na bewering nodig om kontantvloei te herstel en sodoende broodnodige produksie-aktiwiteite te stimuleer en om inkomste te genereer. Solidariteit-lede het hierdie voorstelle gedurende ʼn onlangse mandateringsproses verwerp.

“Terwyl dit algemene kennis is dat Denel tans gebuk gaan onder hewige kontantbeperkings, wat uitstaande betalings aan verskaffers ter waarde van R1,2 miljard insluit, is Solidariteit-lede nie verantwoordelik vir die wanbestuur en swak bestuursbesluite wat Denel in die huidige finansiële verknorsing laat beland het nie,” het Johan Botha, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, gesê.

Volgens Botha toon Denel MSB Bpk. se 2017-’18 finansiële verslag aan dat te midde van die swak bestuursbesluite, Denel se groep- finansiële direkteur steeds ʼn stewige prestasiebonus van R3,28 miljoen ontvang het en dat sy totale vergoedingspakket vir die finansiële tydperk R7,023 miljoen beloop het. “Die salarisrekening vir Denel se groep- uitvoerende beamptes het van R22 miljoen in 2016-’17 na R41,8 miljoen in 2017-’18 verhoog,” het Botha gesê.

“Nog nie een van die uitvoerende hoofde wat verantwoordelik is vir die swak bestuursbesluite en wanbestuur is krimineel vervolg nie, maar ons lede moet verlief neem met die feit dat “Een Denel” beteken dat jy met jou salaris moet boet vir die wanbestuur van ander.

“Indien ons lede nie gehoor gee aan die vereiste korttyd wat ʼn 20%-vermindering in hul inkomste tot gevolg sal hê nie, sal die uiteinde ongelukkig wees dat salarisbetalings na November 2018 nie gewaarborg sal wees nie.”

Buiten Solidariteit-lede se eis vir dringende optrede teen die oortreders, vereis lede ook die dringende aanstelling van ʼn nuwe groep- uitvoerede beampte, die dringende goedkeuring van Denel se hersiene korporatiewe plan en dringende oorweging van buitelandse beleggers wat moontlik in aandeelhouding van Denel sou belangstel. “Privatisering of gedeeltelike privatisering van Denel is al wat die totale ondergang van Denel gaan verhoed, nie die voorgestelde 20%-besparing op werknemers se salarisse nie. Ons is bekommerd oor president Ramaphosa se uitlating onlangs dat daar nog nie werklik oorweging geskenk is aan die moontlikheid van buitelandse beleggers wat in Denel belangstel nie, terwyl daar reeds aanduidings is dat maandelikse salarisse van werknemers in gedrang is,” het Botha verduidelik.

“Solidariteit is dus gerat vir enige onwettige vermindering van lede se salarisse sonder hul toestemming,” het Botha afgesluit.