Solidariteit verslag – boere en bruinmense – meer Afrikaanse kinders gebore

0
443

Babaploffing in Afrikaans

ʼn Babaploffing het die Afrikaanse gemeenskap getref. Bruin en wit Afrikaanssprekendes kry weer meer kinders. (Beteken dit ons gaan land oorneem? Dis hoe die ANC dit gedoen het?-Red)

Dit was een van die meer opspraakwekkende bevindings van die 2011-sensus en dit word bevestig deur ʼn demografieverslag van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) wat eerskomende Woensdag uitgereik gaan word.

Volgens Connie Mulder, hoof van die SNI, is daar primêr gebruik gemaak van die sensus se statistieke, maar sekondêre bronne is gebruik om die tendens van die 2011-sensus te bevestig. Doopsyfers is onder meer van kerke aangevra om te bepaal of daar meer kinders gedoop word.

Hierdie babaploffing-kinders behoort dan teen vanjaar (2018) skoolgaande ouderdom te bereik het.

“Ons was verras deur die tendens, maar ʼn mens kon dit in praktyk begin sien aan die nuwe kleuterskole wat in Afrikaanse woonbuurte te voorskyn kom en Afrikaanse laerskole wat vol is. Binne die volgende tien jaar gaan hierdie kinders hoërskole en universiteite benodig. Dit maak die vyandigheid van die regering teenoor Afrikaanse onderrig ʼn nog groter probleem wat beslis tot op tersiêre vlak hanteer sal moet word,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die Solidariteit Beweging, gesê.

Om die uitdaging van Afrikaanse onderwys in die toekoms die hoof te bied, het die Solidariteit Beweging ook aangekondig dat sy Skoleondersteuningsentrum (SOS) ʼn omvattende plan vir Afrikaanse onderwys gaan ontwikkel. Dit gaan gedoen word in vennootskap met onder meer die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON).

Meer Afrikaanse kindertjies beteken ons geslag sal meer positief moet dink en te werk moet gaan wat die toekoms betref. Dit sal verraad wees teenoor kinders wat nog in kleuterskole speel as ons hoop vir die toekoms verloor. Hierdie getalle wys dat hoop-loosheid nie ʼn opsie is nie.

Hierdie kinders gaan skole, universiteite en ʼn veilige omgewing benodig. Dit is duidelik dat die openbare sektor nie in staat gaan wees om vir hierdie kinders ʼn onderwysaanbod te bied nie.

Die statistieke wys dat die gemeenskap veel meer verantwoordelikheid aan die dag sal moet lê. Die Solidariteit Beweging gaan aktief werk om ʼn behoorlike wêreldklas- Afrikaanse onderwysoplossing vanaf kleuterskoolvlak tot op universiteitvlak te bied. Ons kan nie meer kinders hê en nie aan ʼn toekoms vir hulle werk nie. Ons geslag se taak is om ʼn toekoms te help bou waarin hierdie kinders vry, veilig en voorspoedig kan wees,” het Hermann gesê.

Volgens Mulder is hierdie bevinding slegs een van die bevindings in die SNI se demografieverslag. Hierdie verslag fokus primêr op die getal Afrikaanssprekers en Afrikaners wat in Suid-Afrika is en in die komende dekades gaan wees. Die verslag word eerskomende Woensdag uitgereik.